Jesus, die Lig van die Wêreld!
Lees:
Johannes 8:12 (NLV): Verder, by ‘n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: ‘Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’.
Doen:
Kerstyd… die mees wonderlikste tyd van die jaar! Ons kersbome is pragtig versier, en die geskenke lê al en wag vir ons. Ek lê nou die aand in die donker en staar na ons kersboomliggies wat flikker en die huis ophelder. Dit het my laat dink…
Mag die kersboomliggies ons hierdie jaar herinner aan:
DIE ROOILIGGIES – ‘n waarskuwing dat ons nie moet vergeet waaroor Kersfees regtig gaan nie. Jesus is vir ons gebore, dit is ‘n Christusfees! Dit gaan alles oor Jesus, Hy is die lig van hierdie wêreld.
DIE ORANJELIGGIES – die wonderlike geskenk wat ons ontvang het. Die Heilige Gees is elke dag by ons om ons te lei en leer.
DIE GROENLIGGIES – groei. So moet ons onthou om elke dag te groei in ons verhouding met ons Hemelse Vader.
DIE BLOULIGGIES – water. Jesus is ons bron van Lewende Water. Sonder Hom kan ons nie bestaan nie.
DIE GEELLIGGIES – geluk en vrede, God se goedheid en genade. Kom ons sê elke dag dankie om so gelukkig te mag wees om ‘n kind van God genoem te word.
EN TOE VANG my oog die heel mooiste, grootste, blinkste ster, bo-op die punt van die kersboom, wat die meeste lig gee en ek onthou dat Jesus ons enigste Lig, Verlosser en Saligmaker is wat vir ons as ‘n mens aarde toe gekom het. Om in ‘n krip in ‘n stal in Bethlehem gebore te word om ons sonde se prys te betaal, sodat ons vir ewig saam met ons ware Lig kan lewe.
Mag ons hierdie Kersfees, Jesus se ligdraers wees.
Bid:
Ons Hemelse Vader, dankie dat U ons so lief het dat U, U enigste Seun gegee het, sodat ons wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Dankie Jesus, vir U lig wat alle duisternis verbloem. Help ons om U ligdraers hierdie Kersfees te wees. Ons vier U en is baie lief vir U. Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.