Die Vrug van die Gees: Liefde
Lees:
Galasiërs 5:22-23 (NLV): “Maar die vrug wat die Gees voortbring, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ‘n wet nie.”
Doen:
Ons is opgewonde om met ‘n nuwe reeks te begin: Die vrug van die Gees.
Die dag wat ons Jesus se uitnodiging aanvaar om ons Verlosser te wees, kom bly die Heilige Gees in ons harte. Hoe meer ons van Jesus leer en nader aan Hom leef, hoe meer ‘vrugte’ groei aan die ‘boom’ in ons harte – die Heilige Gees se vrugte.
Die eerste vrug van die Gees wat ons graag wil uitleef hierdie maand is: Liefde.
Wat is liefde?
Liefde kan emosioneel of geestelik ervaar word.
Elke mens ervaar liefde anders, ons kry ook verskillende soorte liefde.
Dink aan die liefde wat jy ervaar as jy dink aan jou huisgesin of familie, teenoor jou maatjies of juffrou, of teenoor jou troeteldier; en ook hoe lief jy vir Jesus is…
Liefde verskil, maar wat saak maak is hoe ons liefde uitleef.
So kom ons betoon Jesus-liefde aan almal hierdie maand deur:
– ‘n Maat te help wat sukkel;
– Gehoorsaam te wees;
– Behulpsaam te wees by die huis en skool;
– Vriendelik te wees met ons boeties, sussies en maatjies;
– Bejaarde mense te help;
– Ons beste te gee by die skool en op die sportveld; en
– Om bereid te wees om iets van onsself aan ander te gee.
God is liefde! Sy liefde raak nooit op soos mense se liefde nie. Hy het altyd tyd en as ons Hom vra, sal Hy ons altyd help. God se liefde is so groot dat Hy sy enigste Seun, Jesus, vir ons gegee het, sodat ons Hom ons Hemelse Vader kan noem. Wow! Dit is liefde.
So, mag ons by Jesus leer en ons naaste liefhê soos onsself, dit is ‘n opdrag wat God vir ons gegee het. Dit is nie altyd maklik om almal lief te hê nie… veral as hulle ons sleg behandel, maar met die Heilige Gees se hulp kan ons dit doen!
Bid:
Vader God, dankie vir U amazing liefde. Dankie dat ons by U kan leer wat werklike liefde beteken. Help ons om die vrug van liefde na buite uit te leef, sodat mense U liefde kan ervaar! Ons loof en prys U grote naam. In Jesus se Naam bid ons dit, Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.