God se wapenrusting: Gebed!

Lees:

Efesiërs 6:14-18 (NLV): Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord. Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Doen:

Hierdie maand leer ons oor die laaste stuk van God se wonderlike Wapenrusting: GEBED.

Daar is niks kragtiger as gebed nie. Al die stukke van God se Wapenrusting word sterker wanneer ons die regte keuses maak en as God eerste in ons lewens is!

So, kom ons verklaar vandag dat ons:
– Die WAARHEID gaan praat deur altyd eerlik te wees.
– In GEREGTIGHEID sal lewe deur God altyd eerste te stel.
– In VREDE sal stap deur ons geloof met ander te deel!
– Vas sal staan in ons GELOOF en in dit wat ons glo, om sodoende bose aanvalle te WEERSTAAN!
– Altyd sal vertrou op Jesus as die hoeksteen van ons VERLOSSING!
– Tyd in God se WOORD sal spandeer, sodat ons deur Sy GEES die WAARHEID sal ken wat ons vrymaak!

Die belangrikste is dat ons elke dag moet BID! Ons kan enige tyd bid – gedurende ons stiltetyd, saam met ons familie en saam met ons vriende. Ons kan bid wanneer ons gelukkig is en wil dankie sê aan God, of wanneer ons hartseer is en God se hulp nodig het. Ons het nie ‘n spesiale plek of tyd nodig om met God te praat en na Hom te luister nie. Gebed is ‘n geskenk wat ons ontvang, sodat ons met ons Hemelse Vader kan gesels, wanneer ons wil en waar ook al ons is!

Bid:

Liewe Jesus, dankie dat ons U wapenrusting as geskenk kan ontvang. Help ons om dit elke dag aan te trek sodat ons standvastig kan bly in ons geloof, en vas kan staan teen die aanvalle van ons vyand. Help ons om die krag van gebed tot eer en verheerliking van U Naam te gebruik en om mense bymekaar te bring!
In Jesus se Naam bid ons dit, Amen.

Subscribe to our Podcast Channel