God se wapenrusting: Die Swaard van die Gees!

Lees:

Efesiërs 6:14-17 (NLV): “Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet. Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.

Doen:

Hierdie maand kyk ons na die sesde gedeelte van die wapenrusting van God: die Swaard van die Gees.

Die swaard van die Gees gaan oor die krag van God se Woord. Deur die Bybel te lees, leer ons wie God ons Skepper is, Sy beloftes vir ons en hoe om ‘n Goddelike lewe te lei.

Hoekom is dit vir ons belangrik om die swaard van die Gees te dra?

Die swaard van die Gees help ons om versoekings te weerstaan, deur te veg teen geestelike kragte en vas te staan op die Woord van God. In Hebreërs 4:12, leer ons dat die Woord van God lewend, kragtig en skerper is as enige tweesnydende swaard. Dit is ‘n kragtige wapen wat ons van God gekry het!

Het jy geweet God noem Satan die vader van alle leuens? Satan hou daarvan om ons om die bos te lei deur leuens te glo en ons te laat twyfel oor God. Dit beteken die beste manier om teen ons vyand te veg is met God se Woord, wat die ENIGSTE WAARHEID is waarop ons kan staatmaak! So, hoe meer ons, ons Bybels lees, hoe duideliker sal ons Satan se leuens sien en hoe meer sal ons op God se waarheid vertrou!

– As ons die waarheid van God se Woord diep in ons harte wegbêre, kan ons God se liefde aan die mense rondom ons bewys deur ‘n lewe te leef wat gegrond is in wat ons glo en weet waar is van God en ons geloof in Hom!

Onthou, ons kan dalk die enigste Bybel wees wat iemand ooit sal lees – dit is waarom ons geloof in Jesus so belangrik is!

Die swaard van die Gees is God se Woord… Kom ons lees ons Bybels dus elke dag om meer van God te leer. Kom ons memoriseer Bybelversies, sodat ons die waarheid kan ken, en sodat die waarheid ons kan vrymaak (lees Johannes 8:32).

Bid:

Liewe Jesus, dankie vir U Woord wat ‘n lamp is vir ons voete en ‘n lig is vir ons pad! Dankie dat U Woord ons kan help om al die aanvalle van die vyand te oorkom. Help ons asseblief om U Woord diep in ons harte te bewaar, sodat ons gevul met U WAARHEID sal leef.
In Jesus se Naam bid ons dit. Amen.

Subscribe to our Podcast Channel