God se wapenrusting: Die Helm van Verlossing…

Lees:

Ons skrifgedeelte vir vandag is Efesiërs 6:14-17 (Afr53): “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God…”

Doen:

Hierdie maand gaan ons voort met die wapenrusting van God deur te kyk na die vyfde gedeelte: DIE HELM VAN VERLOSSING.

Die Helm van Verlossing gaan oor ons redding en vrymaking wat ons slegs deur Jesus kan ontvang!

Hoekom het ons die Helm van Verlossing nodig?

– Omdat ons almal sondaars is wat gered moet word, en dit is slegs Jesus wat ons kan red en beskerm teen die sonde in ons lewens.
– Sodat ons vol vertroue kan wees dat ons sonde vergewe is, ons geliefd is en aanvaar word net soos ons is, as gevolg van Jesus se offer aan die kruis!
– Sodat ons die ewige lewe kan beërwe. God belowe ons in Johannes 3:16, dat as ons in Jesus glo, ons die belofte en hoop van ‘n ewige lewe saam met ons Vader God sal hê en dat die vyand dit nooit van ons kan steel nie!

Die Helm van Verlossing is ‘n baie belangrike deel van God se Wapenrusting, want dit is God se GRATIS geskenk aan almal wat in Jesus glo!

Bid:

Liewe Jesus, dankie vir die kosbare geskenk van verlossing deur U Seun, Jesus! Help ons om ons vertroue in Hom te stel en in Hom te glo om ons sondes te vergewe en ons veilig te hou teen enige onheil. Dankie dat U ons toerus om elke dag hierdie geestelike stryd te voer! In Jesus se Naam bid ons dit, Amen.

Subscribe to our Podcast Channel