God se wapenrusting: Die Skild van Geloof…

Lees:

Ons skrifgedeelte vir vandag is Efesiërs 6:14-16 (NLV): “Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan. Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet”.

Doen:

Hierdie maand gaan ons voort met die wapenrusting van God deur te kyk na DIE SKILD VAN GELOOF.

Het jy geweet dat ons geloof in God, Jesus en die Bybel soos ‘n skild is wat ons beskerm teen enige twyfel, sonde of moeilike omstandighede?

Geloof beteken nie net om in iets te glo of die oortuigings van ons ouers, onderwysers of ander te aanvaar nie, maar ware geloof is om te glo dat Jesus ons Verlosser is en dat ons die ewige lewe deur Hom beërwe.

Soos wat ons in ons geloof in Jesus en die Woord van God groei, raak die waarskynlikheid al hoe minder om seer te kry deur die slinkse planne en leuens van die duiwel.

In Genesis 3:1 sê Satan vir Eva: “Het God werklik gesê…”
Deur hierdie skrifgedeelte leer ons dat die duiwel altyd sal probeer om:
1. Ons te laat twyfel of wat God sê waar is;
2. God se getrouheid aan ons te bevraagteken;
3. Ons weerhou om God se teenwoordigheid te ervaar; en
4. Ons laat struikel as ons wegdwaal van God se Woord.
Daarom is dit so belangrik om te weet wat ons glo en hoekom ons dit glo.

So, kom ons ons onthou hierdie maand dat:
God getrou is. Hy is altyd by ons, en ons hoef nie die stryd teen die duiwel in ons eie krag te veg nie. Ons kan staatmaak op God se krag, sodat ons enige sonde en die brandende vuurpyle van Satan kan WEERSTAAN.

God betroubaar is. Sy Woord is ons kompas in die lewe en die waarheid wat ons vrymaak. So, kom ons staan vas in geloof, met die wete dat God ons beskerm en ons rotsvaste fondasie is. Soos wat ons leer om Hom meer te vertrou, sal Hy ons beskerm en bedek met Sy oneindige liefde!

Bid:

Vader God, dankie dat U vir ons die skild van geloof gee, om ons te beskerm teen die duiwel se aanslae. Ons is so dankbaar dat U Woord die waarheid is en dat ons alles kan glo wat U oor ons sê. Help ons om meer tyd saam met U en in U Woord deur te bring, sodat ons kan leer hoe om standvastig in ons geloof te staan. In Jesus se Naam bid ons, Amen.

Subscribe to our Podcast Channel