Beste vriende!

Lees:

Spreuke 17:17 (NLV): “Op ’n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is”.

Doen:

Die skool het begin… en dit was die grootste lekkerte om weer al ons maats te kan sien, te speel en saam te kan lag!

Dit het my herinner om hierdie maand te onthou:

God het ons geskape om in verhouding met ander te lewe. Ons almal het vriende nodig – iemand wat ons opbeur as ons moedeloos is, of te laat lag as ons harte seer is, of op te tel as ons val, of langs ons te stap as ons alleen is. Soos wat die Bybel ons leer: Kom ons betoon Jesus-liefde aan ons maats; kom ons wees daar vir mekaar wanneer dit goed of sleg gaan; kom ons gee om vir mekaar!
En al voel ons dalk soms alleen of hartseer, kom ons onthou Jesus se uitnodiging: “Kom na my toe… Ek noem julle vriende…” (Matteus 11:28-30 en Johannes 15:15). Jesus is ons beste vriend, Hy is altyd daar vir ons! Ons kan enige tyd, enige plek en oor enige iets met Hom praat.

Bid:

Liewe Jesus, baie dankie vir kosbare vriende in ons lewens. Help ons om by U te leer hoe om ‘n betroubare en lojale vriend te wees. Baie dankie dat U elkeen van ons se beste vriend is en dat U altyd daar is vir ons. Ons het U baie lief.
Amen.

Subscribe to our Podcast Channel