Die Leeu van Juda…

Lees:

Rigters 14:14 (NLV): Simson sê toe vir hulle: “Uit een wat eet, kom daar iets om te eet. Uit een wat sterk is, kom daar iets wat soet is”.

Doen:

Vir ons mondelinge assessering het my juffrou vir ons die volgende vraag gevra: “Watter dier sou jy gekies het om graag te wees?”

Gebaseerd op ons skrifgedeelte vandag, kon julle seker raai…
Ek sou graag ‘n koning leeu wou wees!

Hoekom? Heel eerste, want ek is DIE KONING se kind!

Kom ons kyk wat dit beteken:

‘n Leeu is ‘n sterk roofdier met ‘n gespierde liggaam. Ek moet sê, ek dink nie enige van ons sou om gegee het om ‘n “six-pack” te hê en so sterk te wees nie. Dit is net soos wat die Here vir Josua die opdrag gee in Josua 1:9 (NLV): “Wees sterk en dapper”.
‘n Leeu is bang vir niks nie. Net so hoef ons nie bang te wees nie – want Jesus is altyd by ons. Kom ons lees verder in Josua 1:9 (NLV): “Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”
‘n Leeu mannetjie moet sy trop beskerm teen al die elemente daar buite. Net so moet ons ook deur die krag wat ons van die Here af kry – dié waarvoor ons lief is beskerm – want in en deur Jesus is ons tot alles in staat (Filippense 4:13).
Leeus is uitstekende jagters – en dit is hoe hulle groot en sterk raak. Ek moet sê, ek is ook mal oor jag – en dit is ook dan ‘n manier om ons eie liggame te voed. Gaan lees bietjie die interessante versie in Genesis 27:3. Leeus hou ook daarvan om saam as trop te eet. Ek weet nie van julle nie, maar vir my, is van ons lekkerste familie-tye om saam om die tafel te sit en eet en kuier.
‘n Leeu is familie-vas. Net so moet ons lief wees vir ons familie, die tyd wat ons saam spandeer geniet, en saam as ‘n huisgesin en kerk-familie die Here dien en prys (Josua 24:15).

So kom ons maak hierdie die beste feestyd saam as families en vriende. Dit was ‘n anderste jaar, maar kom ons wees dankbaar en kyk op na die Koning van alle konings – want Hy belowe ons: “Hy sal ons nooit alleen los of in die steek laat nie; Hy is ons voorsiener en beskermer; Hy is die groot EK IS; die sterke Leeu van Juda!”

Bid:

Jesus, dankie dat U ons Koning is. Dankie dat U ons lei, behoed en bewaar. Dankie dat as koningskinders, ons vir niks hoef bang te wees nie – want in U en deur U is ons sterk en dapper. Dankie dat U altyd by ons is.
Amen.

Subscribe to our Podcast Channel