Behou die goeie!
Lees:
Filippense 4:6 (NLV): “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen”.
Doen:
Vandag se WRAP is klein bietjie anders… My ma het nou die dag ‘n “W@W DOING LIFE TOGETHER” aanlyn sessie bygewoon. Hulle het die impak van COVID op huisgesinne bespreek, en tannie Nicolene (‘n Sielkundige) het die mammas uitgedaag om ‘n paar vrae aan hulle kinders te vra.
Net voor ons by die vrae kom, ‘n vinnige agtergrond van my gesin:
Pappa is ‘n boer en werk ook by ‘n landbou-besigheid. So, Hy het heeltyd gedurende ‘lockdown’ gewerk.
Mamma is ‘n onderwyseres, en sy is die departementshoof, kultuur-hoof, afrigter van verskeie sportsoorte en sy rig ook die koor af. So sy is altyd by die skool of besig met skool goed.
Gelukkig is ons baie bevoorreg om beide oupas en oumas in die dorp te hê. So, my oumas het ons by die skool gekry, gehelp met ons huiswerk, en ons rondgery na sport oefening of ander aktiwiteite toe.
Toe kom hierdie vreeslike virus en ‘lockdown’. En dit verander ons almal se lewens…
So hier is mamma met die eerste vraag:
Hallo julle, my naam is Anna-Marie.
Dis ‘n voorreg om saam met julle te kuier vir hierdie Kids-WRAP.
John-Michael, my eerste vraag is: Wat was/is vir jou die slegste gedurende ‘lockdown’?
Vir my was en is steeds… Dat ek nie meer my oumas en oupas kan sien nie. Dat ek hulle nie net ‘n drukkie kan gee of op ouma se skoot te kan sit nie. En ook dat ek nie mag plaas toe gaan en daar gaan speel nie. Dis vir my baie sleg.
Dit laat my aan die woorde van Jesus in Matteus 16:33 (NIV) dink: “In die wêreld sal julle swaarkry beleef, MAAR SKEP MOED: Ek het die wêreld reeds oorwin”.
Dis so waar John-Michael, gelukkig kan ons vrede en geluk in Jesus vind. Kom ons hou ons oë gevestig op Hom, veral as ons in slegte omstandighede is – Jesus het reeds oorwin. My tweede vraag is: Wat was/is vir jou die lekkerste gedurende ‘lockdown’?
Vir my was en is nou weer… Dat mamma by die huis is. Ek wou baie graag in my ma se klas wees en nou was ek! Dat ek heeltyd by mamma kan wees en dat mamma tyd saam met ons kan spandeer. Ons as gesin kon ook naweke saam geniet – byvoorbeeld een naweek het ek, my pa en boetie ‘n tent opgeslaan en sommer hier in ons erf gekamp, met ‘n vuurtjie, vleisie, marschmellows en als!
Geen wonder Psalm 133:1 leer ons hoe goed en mooi dit is as daar eenheid in ons gesinne is.
Dit is werklik belangrik John-Michael en wat ‘n spesiale tyd vir ons as gesin – ons is geseënd. My derde vraag is: Wat sal jy graag wil vergeet van hierdie tyd?
Ek wil van die virus vergeet. Hy moet net weggaan sodat ons weer normaal skool toe kan gaan.
Paulus leer ons seker so ietsie daarvan in Filippense 3:14 (AFR53): “…ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is…”
Dit is baie waar, so kom ons hou moed! Hierdie seisoen sal ook tot ‘n einde kom. My laaste vraag is: Wat sal jy graag wil hê moet ons as ‘n gesin behou na COVID – wanneer ons weer in ons ‘nuwe normaal’ leef?
Sondae aande bord-speletjies! “Movie” aande met “popcorn” op ‘n matras voor die TV. Sondag kinderkerk in ons “jamies” – waar ons lekker “fun” het terwyl ons meer van Jesus leer. Ons virtuele familie-ontmoetings – dis so lekker om my ouma, oupa, oom en tannies te sien – al is dit nou deur Zoom.
Dit het my net weer laat dink aan die versie in Josua 24:15 (AFR53): “…maar ek en my huis, ons sal die HERE dien”.
So vra vir jouself hierdie vrae, leer en neem die beste uit hierdie seisoen uit. Vra ook vir Jesus om jou te help.
Bid:
Pappa Vader, dankie vir my familie. Dankie vir die kosbare tye wat ons saam kan beleef. Dankie vir ons gesondheid. Dankie vir U liefde en beskerming wat ons elke dag kan ervaar.
Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.