Jesus is ons HOOP!
Lees:
Matteus 7:15-16 (NLV): “Pas op vir die vals profete. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe. Julle sal hulle aan hulle optrede uitken…”
Doen:
Ek en oupa ry nou die dag so tussen deur die skape en gesels. Oupa sê toe ons moet gou die skapies in die kraal injaag, want anders kan die jakkalse die klein lammetjies deur die nag kom vang. My eerste gedagte was: Maar jakkalse is so mooi! Hoekom sal so mooi dier nou ‘n arme klein lammetjie wil vang? En toe verduidelik oupa vir my…
So kom ons onthou hierdie maand:
Ons is soos lammetjies. Jesus is ons Skaapwagter. Hy wil die beste vir ons hê, ons beskerm, en help in alles wat ons doen. Maar ongelukkig is daar klein jakkalsies orals rondom ons – die duiwel en vals profete wat skaapklere aantrek en soos ons lyk, maar wat eintlik vir ons leuens vertel en ‘n verskuilde agenda het. Hulle wil ons verlei om onwaarhede te glo oor ons Hemelse Vader, oor onsself en oor ons situasie. Hulle verlei ons dalk ook om nie mooi op te tree, kwaad te word, of lelike dinge te doen.
Matteus waarsku ons teen sulke jakkalsies… Maar ons het HOOP: Jesus is vir ons! Kom ons wees baie bedag op wat Jesus oor ons sê: Hy het ons lief, ons is Sy kinders, Hy gee vir ons Hoop, Hy beskerm en bewaar ons. Hy wys ook vir ons deur Sy woord, die Bybel, hoe om op te tree as ‘n Jesus-kind en hoe om nie gevang te word deur die klein jakkalsies in ons lewens nie.
Bid:
Liewe Jesus, maak asseblief ons oë oop sodat ons die klein jakkalsies in ons lewens sal raak sien. As Jesus-kinders, het ons hoop en mag ons U voorbeeld volg. Dankie dat U ons help en bewaar! In U almagtige naam bid ons dit.
Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.