Kersgeskenke…

Lees:

Matteus 2:10-11 (NV): “Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre”.

Doen:

Kersfees gaan oor veel meer as die geskenke wat ons kry onder die boom… Dit gaan eerder oor geskenke GEE (soos die wyse manne) as geskenke ONTVANG.

So kom ons onthou hierdie maand:

Om soos die sterrekykers, hulde aan Jesus te bewys deur Hom te loof en prys in alles wat ons doen. Hy het Sy lewe vir ons gegee, die GROOTSTE GESKENK ooit, sodat ons HOOPVOLLE, GEESVERVULDE, en VREUGDEVOLLE lewens kan lei. Mag die manier hoe ons Jesus aanbid en verheerlik, ander na Hom toe lei!

En kom ons GEE eerder as om te ONTVANG… Groot, duur of “fancy” geskenke is nie altyd wat ons gelukkig maak nie. Die gawes en geskenke wat ons van die Gees ontvang het, gaan ander baie meer gelukkig maak (Galasiërs 5:22):
LIEFDE, eerder as selfsug;
GELUK en ‘n glimlag op ons gesig, eerder as hartseer;
VREDE en GOEDHARTIGHEID, eerder as onmin (bakleiery) of eiegeregtigheid;
GEDULD en VRIENDELIKHEID, eerder as om lelik en kwaai met ander te wees;
GETROUHEID en NEDERIGE BYSTAND, eerder as om ander in die steek laat, alleen te los in moeilike omstandighede of te veel van onsself te dink; en
SELFBEHEERSING, eerder as om toe te laat dat sonde hoogty in ons lewes vier.

Watter van hierdie GESKENKE gaan jy aan ander uitdeel gedurende hierdie feestyd?

Bid:

Liewe Jesus, ek wil U naam verheerlik en aan U hulde bring deur my lewe, my optrede en die “geskenke” wat ek aan ander gee hierdie feesseisoen.
Amen.

Subscribe to our Podcast Channel