Op ons knieë…
Lees:
Psalm 107:1-2 (NV): “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het…”
Doen:
In die Noord-Weste is dit ontsaglik droog op die oomblik – ons het amper niks of bitter min reën vir hierdie seisoen gehad sover… Dit is desperate oomblikke – en ek praat nou van reën, maar dit kan net sowel gesondheid, verhoudings, die verlies van ‘n geliefde, slegte of hartseer goed wees wat gebeur…
Dit het my laat dink – wat is ons eerste reaksie as alles nie gaan soos ons hoop of gedink het nie?
Wat is jou eerste reaksie in nood?
So kom ons onthou hierdie maand:
Ons het net een Redder! Ons eerste reaksie tot moeilike situasies moet wees, soos wat ons sien in ons Skrifgedeelte die maand, om uit te roep na ons Vader God en vir Hom te vra om ons te help en wat om volgende te doen.
Kom ons gaan daagliks op ons knieë voor ons Hemelse Vader. Kom ons bid vir uitkomste en vir Jesus om ons te help in tye van nood.
Kom ons probeer verstaan hoe ons in moeilike situasies, ander maatjies na Jesus se liefde, goedheid en genade kan wys…
Is daar ‘n nood of moeilike situasie waarvoor jy vandag op jou knieë kan gaan en vir Jesus vra om die situasie in jou gesin, jou familie of maatjie se lewe te verander?
Onthou: Ons Hemelse Vader is goed en aan Sy liefde is daar geen einde nie. Hy hoor as ons bid! Hy wil die beste vir jou hê, Hy is getrou en het jou meer lief as wat jy ooit sal kan besef.
Bid:
Liewe Jesus, dankie dat U hoor as ons uitroep na U in moeilike situasies. Ons bid vir reën, vir goeie gesondheid, vir veiligheid, vir wysheid en vir U voorsiening in ons tye van nood. Vader God, dankie dat U ons voorsiener, beskermer en Vader is. Ons prys U almagtige naam.
Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.