Wie kies jy?

Lees:

Josua 24:15 (DB): “Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien”.

Doen:

Mariana het vir my gevra wat dit beteken om ‘n gelukkige familie te wees… Dit het my vir ‘n oomblik laat dink dat ons Vader God my die grootste geskenk ooit gegee het… Om ‘n gelukkige familie te wees is om by die mense te wees wat ek die liefste het – my “amazing” ouers, ‘n uitdagende en liefdevolle boetie, ongelooflike oupas en oumas, ooms en tannies. Ek het ervaar dat liefde, aanvaarding, kommunikasie, en om lekker dinge saam te doen belangrik is om ons verhoudings te bou en ons familie te versterk. Maar bo dit alles, om God eerste te plaas in ons familie – om die keuse te maak, om Hom bo alles te dien en verheerlik.

So kom ons onthou hierdie maand:

Ons Vader God het ‘n spesifieke doel en plan met elkeen van ons families. Kom ons maak seker dat ons familie Hom dien; Hom eerste stel in alles; en Sy instruksies vir ‘n gelukkige gesin navolg. Kom ons gaan terug na die Bybel en verstaan God se ontwerp en hart vir families en streef dit na. Kom ons maak seker ons kies Jesus eerste in alles!

Kommunikasie is super belangrik! Praat met mekaar – vir jou familie dat jy lief is vir hulle, dat hulle belangrik is in jou lewe en dat jy nie sonder hulle deur die lewe sou wou gaan nie. Praat ook met die Here oor jou familie – bid saam met jou gesin en ook vir jou gesin. Daar is niks kragtiger as gebed nie. Bid vir jou ma, pa, boetie, sussie, ouma, oupa en die res van jou gesin. Vra Jesus om hulle te seën en te beskerm. Vra vir hulle waarmee hulle op die oomblik sukkel, en bid dan spesifiek dat ons goeie-goeie Vader God vir hulle ‘n antwoord of uitkomste sal bring.

Bowenal, hê jou familie-lede lief soos wat Jesus ons lief het!

Bid:

Vader God, dankie vir my gesin en my familie! Dankie dat ons nou, saam weer kan bevestig: U is eerste in ons lewens en in ons verhoudings met mekaar. Ons kies om U lief te hê bo alles! Ons loof U, prys U en dien U as Koning en Verlosser van ons huis!
Amen.

Subscribe to our Podcast Channel