Jou eerste stap in alles is GEBED!
Lees:
Lukas 6:29 (ABA): “As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. As iemand jou bo-kleed vat, dan moet jy ook jou onderkleed vir hom gee”.
Doen:
Ek en my beste maatjie het bietjie van ‘n stryd opgetel een pouse by die skool. Ek was hartseer, kwaad en het moedeloos gevoel omdat iemand wat jou beste vriend is, of dalk iemand anders in jou klas iets leliks teenoor jou kan sê en daarmee wegkom…
Dit het my laat dink… Wat sou Jesus doen in so situasie?
Was my optrede om kwaad en hartseer te wees reg?
Wat sou Jesus ons leer as dit Sy beste vriend was wat so iets gedoen het?
So kom ons onthou hierdie maand:
As ons onseker is oor hoe om op te tree in ‘n moeilike situasie, kom ons bid en vra vir ons Vader God wat om te doen. Kom ek noem ‘n paar voorbeelde: Dalk is ons maatjies lelik met ons, dalk doen ons nie so goed in ‘n toets as wat ons gedink het nie, dalk wen iemand anders ons op die sportveld, dalk stel ons ouers ons teleur, dalk is daar ‘n boelie in my klas, dalk draai dinge heeltemal anders uit as wat ons gedink het…
Ons moet leer om nie moeilike of slegte situasies op ons eie te hanteer nie – maar om ALLES na Jesus toe te vat!
As jy nie weet wat om te doen nie (as jy hulp nodig het) – STOP vir ‘n oomblik. BID en vra ons Hemelse Vader wat om te doen. LUISTER wat Hy in jou hartjie sit om te doen. DINK aan ‘n Bybelversie of storie om jou te bemoedig en om jou te herinner aan hoe Jesus sou optree as Hy in so situasie was. ONTHOU God se liefde en genade vir jou. En TREE DAN OP volgens God se wil!
(Ek moet gou inlas… Onthou, ons Vader God is nie ‘n OTM wat altyd, onmiddellik vir ons die geld gee nie (alhoewel Hy kan!) – soms moet ons wag (dit kan dae, of maande of jare vat) – maar ons moet volhard in gebed en vertrou dat Hy die uitkomste, as ons na Sy wil soek, op Sy regte tyd sal bring).
Bid:
Vader God, ons het U baie lief. Dankie dat ons uit die liefde wat U vir ons gee, vir ons familie en maatjies kan lief wees. Help ons om nie kwaad te word as iemand lelik is teenoor ons of as dinge nie uitwerk soos ons gedink het nie. Help ons om altyd eerste na U toe te gaan – om te bid en te hoor hoe ons moet optree. Help ons om geduldig te wees en U te vertrou. Dankie vir U genade. Help ons Jesus, om U liefde uit te straal in elke situasie en orals waar ons gaan.
Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.