Soos ‘n mier…
Lees:
Spreuke 6:6-11 (NLV): “Jou luiaard, gaan leer by die mier. Kyk wat hy doen. Leer wat wysheid is by hom. Hy het nie ’n leier, of ’n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie. Hy kry reeds in die somer sy kosvoorraad reg. In die oestyd maak hy kos bymekaar. Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap? Wanneer gaan jy eendag opstaan uit jou slaap? Nog ’n bietjie verder slaap, nog ’n bietjie lê en sluimer, nog ’n bietjie hande gevou lê om uit te rus. Skielik oorval die armoede jou soos ’n struikrower. ’n Tekort aan kos oorrompel jou soos ’n gewapende dief”.
Doen:
My boetie het hierdie maand verjaar en mamma het vir hom ‘n gogga-partytjie gehou… Dit het my laat dink aan ons skrifgedeelte vir hierdie maand waar Salomo ons waarsku om nie lui te wees nie, maar soos ‘n miertjie te wees – sonder iemand wat hulle moet aanpor, oppas, regeer of lei werk hulle kliphard om genoeg te hê om van te leef – hulle is slim en fluks in alles wat hulle doen!
So kom ons onthou hierdie maand:
Jesus het ‘n spesifieke plan en doel met ons lewens. Kom ons wees wakker, aktief, gereed, gretig en self-gedissiplineerd om elke dag hard te werk sodat ons kan leer, groei en slim kan word om alles te doen wat deel is van ons doel en roeping op aarde.
Dit beteken ons moet ‘n intieme verhouding met God ons Vader hê om te verstaan waaraan ons hard moet werk elke dag, sodat ons volgens Sy wil kan leef.
Bid:
Vader God, ons wil fluks, wakker en paraat wees om die werk te doen wat U vir ons gegee het hier op aarde. Help ons om ons doel en roeping te besef en uit te leef tot U eer. Heilige Gees, ons het U wysheid nodig elke dag!
Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.