Ons loof U almagtige naam!

Lees:

Genesis 1:31 (OV): “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed…”

Doen:

Terwyl ons op vakansie was… het ek so om my na die natuur gekyk en weer net besef hoe groot en almagtig ons Vader God is. Hoe “amazing” het die Here nie alles gemaak nie? Ongelooflike groot berge en vlaktes, die blou-blou see, wasige wolke, warm sonstrale en asemrowende son-opkoms en -ondergaan prentjies, biljoene sterre en sandkorrels en klippe, die mooiste blomme, grootste bome, diere (groot en klein; vol detail of eenvoudig), watervalle en stroompies… en so kan ek aangaan…

So kom ons onthou hierdie maand:

Om God se hand in alles wat Hy gemaak het raak te sien.

Om Sy hart van liefde teenoor ons in die mooi van dit wat Hy geskep het te sien;

Om dankbaar te wees en gereeld vir Jesus dankie te sê vir die ongelooflik mooi natuurskoon om ons; en

Om die Here saam met Sy ongelooflike skepping te loof en prys vir Sy almagtige grootheid en goedheid!

Bid:

Vader God, dankie dat U die skepping asemrowend mooi gemaak het. Dankie dat ons U liefde, genade en grootheid in die mooi van ‘n sonsondergang, ‘n almagtige groot berg, die gedruis van branders teen rotse, die wolke-prentjies in die hemel, die diertjies wat kruip op die grond, of ‘n kleurvolle blommetjie kan sien. Ons loof en aanbid U almagtige naam.
Amen.

Subscribe to our Podcast Channel