Werp jou bekommernisse op die Here…

‘n Vriendin (wat nou by die Here is), het ‘n aantal jare gelede die brief geskryf, wat ons graag in hierdie boodskap met jou wil jou deel:

Haar gebed destyds was, dat elkeen van ons sal leer om God toe te laat om ons te vorm, dat ons as kinders van God kan opstaan sodat ander mense Jesus in ons oë, gedrag ensovoorts… ensovoorts kan sien! Mag dit vandag ook jou gebed wees: “Ken die Here in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:6).

Met ‘n stem vol liefde, so sag en so teer fluister ons Vader vandag vir jou…
My kind, kom lê jou kop op My bors neer. Vergeet van jou probleme en al jou smart; vergeet van die bose wat jou altyd wil mislei, uitlok en uittart; vergeet van al die laste wat so swaar op jou rus; vergeet van jou sonde – dit is alreeds uitgewis met die bloed van die Lam.
Maak net jou oë toe en luister na My stem, Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne. Nog lank voor tyd bestaan het, en jy in jou moederskoot gevorm is, het Ek jou al geken. Jou naam is in My handpalm gegraveer, Ek weet selfs hoeveel hare jy op jou kop het en nie een haartjie val sonder My wete nie.
Ek is bewus van elke gedagte wat jy dink, maar Ek verlang dat jy met My sal praat. Onthou, jy is tot alles in staat deur die krag wat Ek jou gee. Ek sal jou paaie gelyk maak, as jy My ken in al jou weë. Ek is jou Rots, jou Verlosser, jou Veilige Vesting, by My kan jy skuil. Onder My vlerk kan jy snoesig rus, knus teen My hart.
Ek wil jou teen My vashou, jou troos as jy huil, Ek wil vir jou baie meer gee as wat jy My ooit kan vra. Ek wil langs jou wandel en jou laste dra. Ek wil net graag hê dat jy van My bewus moet wees.
Ek wil hê jy moet weet, My Seun Jesus, het die volle prys vir jou betaal. Moet dus nie moedeloos word en opgee nie, maak nie saak hoeveel keer jy geval of gefaal, of moontlik nog in die toekoms gaan faal nie.
Ek hoor altyd wanneer jy bid. Ek hoor jou meestal vra dat Ek jou omstandighede moet verander… Ek wil jou verseker, Ek sal dit verander en dit sal regkom, maar Ek wil die graagste hê dat jy daarop moet konsentreer om eers die waardevolle pêrel van My Koninkryk te soek en dit te koop. Dis nie duur nie, al wat dit kos is tyd; tyd met My. Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word.
Ek weet jy is nie perfek nie, want Ek werk nog aan jou, Ek is nog nie klaar met jou vorming nie. Ek weet wat Ek in jou hart geplant het en wat die potensiaal van daardie Saad is. Al wat Ek vra is dat jy My leer ken. Sien My in die skepping, word lief vir My Woord en leer om My lief te kry soos Ek jou lief het. Wanneer jy val, moenie bly lê nie, staan op, probeer weer, want My genade is vir jou genoeg!!
Jou Hemelse Vader.

Wat is jou antwoord vandag aan ons Hemelse Vader?