Ons Ware Identiteit…

Meeste van ons kom by ‘n punt in ons lewens waar ons wonder oor die volgende vrae: “Wie is ek? Wat is my ware identiteit? Hoekom is ek hier? Wat is my doel? Is ek wie God my geskape het om te wees?”

Ons het ‘n behoefte aan erkenning ten opsigte van ons betekenis, liefde, respek en ons waarde. Daar is ‘n interne-hunkering om te verstaan wie en wat ons is.

“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip”.
Genesis 1:26-28

God het ons met ‘n bepaalde doel geskape. Maar die mens het teen God in opstand gekom, ons het in sonde verval, en so weerhou sonde ons dan van ons oorspronklike skeppings doel. Sedertdien probeer ons om sonder God betekenis en identiteit vir ons lewens te vind. Maar ons beleef ‘n konstante soeke na meer – daar is ‘n leemte wat gevul moet word. God het ons egter só gemaak dat slegs Hy die enigste Een is wat in al ons behoeftes (of dit geestelik, liggaamlik of emosioneel is) kan voorsien. Eie roem, sukses, gesag oor ander mense, geld, mooi huise of sportmotors is alles maar net namaaksels vir vervulling of sukses. En alhoewel hierdie namaaksels belofte inhou om in ons behoeftes te voorsien, is dit gewoonlik net van korte duur. Slegs God en slegs dit wat Hy vir ons bedoel het, kan vir ons ‘n grondige, standhoudende besef van waarde en betekenis gee. Ons sal nooit blywende vrede vind indien ons onsself voortdurend met ander mense moet vergelyk of bewys nie.

God se wil vir ons is om ‘n balans te vind. Balans tussen ons strewe na uitmuntendheid en ‘n selftevredenheid. Relatief min mense vind hierdie balans. Van die begin van ons lewens af, bevind ons onsself op soek na die bevrediging van een of ander innerlike onverstaanbare hunkering. Hierdie hunkering veroorsaak ook dat ons soek na iemand om ons lief te hê. Dit veroorsaak dat ons, ons liggame en verstand al harder en verder probeer dryf om dit te vind. Ons hoop onbewustelik dat harder werk en opoffering meer waarde te weeg sal bring – ons glo dat as ons meer geld kon maak, of meer aantreklik kon wees, of ‘n meer belangrike amp kon beklee, ander mense ons met meer respek sou hanteer of ons meer sou liefhê.

Indien ons net vir die liefde en aandag van ander mense moes lewe, sou ons nooit tevrede wees nie ― altans nie vir lank nie. Ten spyte van al hierdie pogings na liefde en aandag, sal ons dit nooit as blywende vervulling vind nie – daar is altyd ‘n konstante gevoel dat ons onsself meer en meer moet bewys.

Die behoefte aan erkenning, betekenis, liefde, respek en waarde, is die duidelikste simptoom dat daar ‘n dieperliggende behoefte is, en hierdie behoefte bepaal dan die mens se gedrag, en gevolglik is dit ook die primêre bron van emosionele pyn. En dit is ongelukkig nie altyd maklik identifiseerbaar nie. Nie deur onsself nie en ook nie deur ander mense nie.

Ons behoefte aan liefde en waarde is uiters belangrik vir ons emosionele, geestelike en sosiale stabiliteit en dit is die dryfkrag wat ons gesindheid of motiewe bepaal. Om te begryp dat dit reg is dat ‘n mens hierdie behoefte het, maak die deur oop vir die begrip van ‘n mens se gedrag (goed of sleg), gesindheid (positief of negatief) en standpunt (wat ons glo).

Wie is jy? Kom ons kyk na ons Vader God. Ons antwoord lê in Hom en Hom alleen.