Ons Erfenis…
Baie mense is gered ja, maar hulle leef nie in oorwinning nie. Hulle verstaan nie wat dit beteken nie. In God se groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word. En omdat ons glo, word ons ook deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd openbaar te word (sien 1 Petrus 1:1-3).
“Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het Ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag”.
Deuteronomium 30:19
“Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe”.
1 Tessalonisense 4:3
God stel ons voor twee keuses: 1) Die lewe; of 2) Die dood. God self beveel dat ons die lewe moet kies. Om dus in oorwinning te lewe, moet ons albei kante (lewe teenoor dood) verstaan.
Die kant van die dood
“As iemand na My toe kom kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen … van sy eie lewe”.
Lukas 14:26
Na wedergeboorte is heiligmaking nodig en dit vereis dat ons op die plek van ons eie afsterwe moet kom. Daar is vir talle van ons ‘n geweldige stryd voordat ons uiteindelik heiligmaking kies, en dit ‘n werklikheid word. Iets in ons veg en bied weerstand teen hierdie eis van Jesus. Op die oomblik wanneer die Heilige Gees begin om ons daarop te wys wat dit werklik beteken om te “sterf aan onsself”, begin die stryd onmiddellik. In hierdie proses sal die Heilige Gees ons wys hoe om gestroop te word van die “eie-ek” totdat niks daarvan oorbly nie en net dit wat ewigheidswaarde het oorbly. Ons moet onsself afvra: Is ons gewillig om net dít wat werklik ewigheidswaarde het te laat oorbly? Is ons bereid om ons vriende, vader of moeder of kind, ons eiebelange af te lê? Is ons gereed om Jesus so lief te hê dat ons werklik bereid is om te “sterf aan onsself”? Dit is die toestand wat nodig is vir heilig¬making. Geen wonder Jesus het gesê: “… Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Matteus 10:34).
Hoekom huiwer ons dan wanneer ons op hierdie plek kom, waar die ware stryd begin? Is ons werklik gewillig om onsself te laat minder word sodat slegs dit wat die Here kan gebruik oorbly? Is ons vasbeslote genoeg om gestroop te word van alles wat ander mense van ons dink, én ook alles wat ons van onsself dink? Om ons eenvoudige, naakte “self” aan God te oorhandig? Of weier ons om op hierdie punt met die dood van Jesus Christus vereenselwig te word? Baie sê: “Dit is darem te erg. Ek is seker dit is nie wat die Here van my sal verwag nie“. Maar ons Vader hou van struktuur en dissipline. Die oomblik wanneer ons onsself met Christus vereenselwig, sal Hy ons onmiddellik volkome heilig maak en sal ons lewens vry wees om onwankelbaar en volhardend te wees ten opsigte van enigiets behalwe God.
“Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou”.
1 Tessalonisense 5:23-24
Wanneer ons bid: “Here, wys my wat heiligmaking werklik beteken”, sal Hy ons wys hoe om een te wees met Jesus. Heiligmaking is nie iets wat Hy in ons plaas nie – Hy wil Homself in ons plaas. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Korintiërs 1:30).
Die kant van die lewe
Die geheim van ‘n oorwinningslewe is die perfekte eienskappe van Jesus Christus wat as ‘n geskenk aan ons gegee word, nie geleidelik nie, maar onmiddellik. Wanneer ons in geloof die werklikheid aanvaar dat Hy ons met Hom verenig, verklaar Hy ons heilig. Die heiligheid van Jesus word ons s’n en Hy word deur ons lewens weerspieël. Die wonderlikste geheim is daarin geleë om Jesus toe te laat om Sy volmaakte eienskappe in ons menslike vlees te openbaar. Heiligmaking kom deur God se besluit om aan ons [die mense] Sy seënryke en heerlik geheimenis bekend te maak. Die betekenis daarvan sien ons in Kolossense 1:27: “…Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid“. Dit is Sy wonderlike lewe – deur geloof ontvang ons dit, as ‘n soewereine geskenk uit God se genade. Is ons werklik gewillig om God toe te laat om Sy heiligmaking, net so ‘n werklikheid in ons lewens te maak, soos wat dit in Sy Woord beskryf word?
Die heilige eienskappe van Jesus Christus is die geskenk van Sy geduld, liefde, heiligheid, geloof, reinheid, goddelikheid, ensovoorts (sien Galasiërs 5:22-23). Hy wil in ons dieselfde heiligheid openbaar wat in Hom vertoon word. In Jesus Christus bereik alles volmaaktheid, en Sy perfekte eienskappe is tot ons beskikking. Die gevolg is dat ons moet begin om ‘n lewe van onuitspreeklike orde, opregtheid en heiligheid te leef. “En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word” (1 Petrus 1:5). Iemand het genoem: “…many people are saved, but they are not safe”. Met ander woorde, hulle is gered maar hulle is nie noodwendig oorgelewer nie. “Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie” (Jesaja 29:13). Jesus sê verder: “En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek” (Johannes 12:32).
Jakobus 4:8 sê: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte…!” God self is die suiwerheid en heiligheid wat ons nodig het. Baie mense beweer dat hulle dit eens op ‘n tyd gehad het en wonder hoekom hulle dit verloor het. God laat soms toe dat ons dit verloor. Heiligheid in ons Christelike lewe is wanneer die Gees van God permanent woning maak by die gelowiges wat totaal oorgegee, toegewyd, vertrouend begeer om deur Hom gevul te word. Daar is ‘n diepe, innerlike hunkering na die strome van Lewende Water (die Heilige Gees) (sien Johannes 7:38-39). Hulle verlang dat die glansryke heerlikheid, die Lig van die wêreld glinsterend deur hulle moet skyn (sien Johannes 8:12 en Matteus 5:14-16).
Ons geestelike insig behoort gebaseer te word op die suiwerheid van ons harte. Dit wat diep gewortel is in die grondgebied van ons innerlike gedagte lewe. Wanneer ons ‘n duidelike ervaring rakende die heerlikheid en heiligheid van die koninkryk van God wil ervaar, en met onderskeiding en begrip wil sien, is ‘n suiwer hart noodsaaklik. Ons moet dus erken, bely en werklik bewus wees van die Heilige Gees se teenwoordigheid in ons lewens. Ons moet glo dat ‘n ware ontmoeting met God, reinheid van hart bring. Dan word alles vir ons duidelik! Ons doel hier op aarde, is nie om onsself besig te hou met spekulasies en persepsies nie. Ons doelwit is om ‘n suiwerheid van hart te begeer ― wat voortspruit uit ons gedagte lewe ― dat ons voortdurend bewus sal wees van God se grootheid, genade, almag, heiligheid, liefde, ensovoorts. ‘n Vooruitsig dat Hy Sy genade troon aan ons openbaar en ’n permanente bewustheid van Sy heilige, heerlike teenwoordigheid in ons kweek. “Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee“ (Efesiërs 2:6). Wanneer ons ‘n goddelike ontmoeting met die Here het, is dit omdat ons geestelik by Hom voor Sy troon is, deur die bemiddeling van die Heilige Gees. Dan is ons gees “in Christus” op Sy troon in die hemele gesetel. Hy is ons heiligmaking. Wanneer Christus in ons harte woon, sal ons net soos Moses by die brandende bos, ‘n lewende ontmoeting met God ondervind. Net so sal ons gewas en gereinig word, en waar ‘n mens in Sy teenwoordigheid is, skenk ons Here aan ons ook die belewenis om Sy heerlikheid te ervaar. Die Gees van Christus vloei saam met ons gees om ons in staat te stel om dit wat normaalweg vir ons onmoontlik is, te onthul. “Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God” (1 Korintiërs 2:10). Paulus sê: “Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees” (Efesiërs 3:16-17). Hy gee ons ook “oë van binne”, oë wat ‘n mens se motiewe blootlê, innerlike oë wat waaksaam is teen sonde en hoe om te “sterf aan self”. Hoe meer ons Sy teenwoordigheid begeer, hoe beter sal Hy ons Sy heiligheid wys. Maar ons moet Hom toestemming gee; ons moet self ons sondige harte vonnis en God die reg gee om ons harte te reinig. God voorsien as ons onvoorwaardelik aan Hom alles oor gee.
Ons moet dus besef nederigheid gaan heiligheid vooruit. “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed” (Matteus 11:29). Ons moet besef dat die mees heiligste, mees kragtigste stem wat ooit gepraat het, Homself hier beskryf as Iemand wat “sagmoedig en nederig van hart” is. Heiligheid is die resultaat van die onverdiende guns van God en Hy gee dit net aan die nederiges. Jesus veroordeel nie sondaars nie, Hy veroordeel huigelaars. “’n Huigelaar, is iemand wat weier om te erken dat hy ‘n twee-gesig is en homself voordoen as regverdig”. Ons kan nie huigelaars wees en terselfde tyd heilig wees nie. Gevolglik is die eerste stap na ware heiligmaking om nederig te wees en te erken dat ons, in onsself, nie heilig is nie. Op ’n seker stadium in ons elkeen se lewens word ons gekonfronteer met die onreinheid van ons harte. Die Heilige Gees openbaar sonde, nie om ons te veroordeel nie, maar om nederigheid by ons te bewerkstellig en om die kennis van ons persoonlike behoefte aan God se guns te verdiep. Iewers in ons lewens staan elkeen van ons voor ’n kruispad waar ons die keuse moet maak om heilig te lewe.
‘n Oorwinningslewe begin met die aflegging van trots. Reinheid begin met ‘n gedetermineerde weiering om die toestand van ons harte te verbloem. ’n Smagting na God lei tot selfondersoek. Daaruit vloei nederigheid en uit sagmoedigheid groei ware heiligheid. Indien ‘n persoon nie ingelig word oor die verdorwenheid van hulle ou sondige natuur nie, word hulle “Christelike-Fariseërs”; huigelaars wat vol selftevredenheid en selfregverdiging is. Heligheid geskied slegs wanneer die glorie van God gesoek word en nie glorie vir “eie-ek” nie. “Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie?” (Johannes 5:44). Indien iemand nie met opregtheid kan sê dat hulle graag naby die Lewende God wil wandel nie, sal ‘n gesindheid weerspieël word wat mense wil beindruk en eie eer soek. Wanneer ons verhouding met God voortdurend weerspieël word en ons opreg honger is vir Sy nabyheid en Sy glorie, sal ons dit met sekerheid ervaar.
Onegte Christene spandeer veel eerder tyd aan die opbou van hulle eie goeie naam en goeie reputasie, as aan die suiwerheid van hulle harte en die behoud van ‘n skoon gewete; hulle is trots en is aan die wêreld gelykvormig; hulle konsentreer op die uiterlike en bewaar nie die innerlike nie. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was tipiese voorbeelde hiervan. Maar Jesus se uitdaging is op ons motiewe en innerlike gesindheid gerig. Dit wat in ons innerlike gedagte lewe gebeur, is waar die ware bloedige slagveld plaasvind. En wanneer ons hiermee besig is, kom ons agter hoe verdorwe ‘n mens se hart werklik is, en hoe afhanklik ons van God se genade is. Ons kán ons denke verander deur dit voortdurend te vernuwe (sien Romeine 12:2).
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.