Paasfees – ‘n Tyd om Jesus te verheerlik!
Lees:
Ek weet nie van julle nie, maar rondom Paastyd hoor ons baie woorde soos bekering, oorgawe, herstel en herbou… Paasfees is so ‘n wonderlike tyd om te onthou wat Jesus vir elkeen van ons aan die kruis gedoen het. Hy was bewus van die lyding wat Hy sou verduur, en tog het Hy nie toegelaat dat vrees Hom oorweldig het nie. In plaas daarvan, het Hy op Sy knieë neergeval en gebid: “Vader, nie my wil nie, maar u wil” (Lukas 22:42).
Doen:
Kom ons leer saam waarom Paasfees so belangrik is vir ons as Kinders van God:
BEKERING – Ons Vader God wil graag hê dat ons vergifnis vra vir enige verkeerde dade, sodat ons elke dag in vreugde en vrede met Jesus kan lewe (Lukas 13:5). Ware bekering is om vir God jammer te sê, weg te draai van ons sonde en met ons hele hart terug te draai na die Here toe! Om vergifnis te vra en ander te vergewe is regtig belangrik vir die Here!
So, hoekom vra jy nie nou vir God om jou te wys as daar enigiets in jou lewe is wat nie volgens Sy wil is nie. Vra dan vir Hom (en indien nodig ander) om jou te vergewe?
OORGAWE – Oorgawe is ‘n noodsaaklike sleutel tot ons Christelike wandel met God. Hy wil hê dat ons na Hom toe gaan met die dinge waarmee ons worstel sodat Sy wil in ons lewens weerspieël kan word. Ons moet altyd God se plan vir ons lewe bo ons eie plannetjies plaas (Jeremia 10:23).
So, kom ons plaas ons lewens en planne in ons liefdevolle en getroue Vader God se hande en vertrou dat Hy ons voetstappe sal rig.
HERSTEL – Ons maak dikwels soveel foute dat ons dink God kan dit nie regstel of vergewe nie, maar dit is nie waar nie. In Matteus 19:26 leer ons dat niks vir God onmoontlik is nie. Hy kan selfs ons grootste foute herstel en ons hervul met Sy Heilige Gees om ons sterk te maak, wysheid te gee en ons deur elke dag te lei.
Kom ons bid dat God van vandag af ons foute en sondes sal vergewe en wegvat, en ons opnuut vul met Sy Heilige Gees.
HERBOU – So, deur bekering maak ons onsself oop om alles wat ons terughou om God eerste te stel in ons lewens te kan oorgee. Ons kan daarop staatmaak dat God ons lewens wil herstel sodat ons kan voortbou op ons rotsvaste fondament – ons verhouding met Jesus Christus!
Bid:
Onse Vader wat in die hemel is, dankie vir die grootste geskenk ooit – Jesus Christus ons verlosser en vriend! Help ons asseblief om ons van ons sondes te bekeer en in totale oorgawe aan U te leef. Kom en herstel ons lewens en help ons om ons verhouding met Jesus te bou en te versterk.
As enige iemand van julle wat luister, nog nooit jou lewe vir Jesus gegee het nie – nooi ek jou uit om vandag hierdie eenvoudige gebed saam met my te bid:
Here Jesus, dankie dat U my so lief het dat U vir my gesterf het. Vergewe my asseblief van my sonde en kom bly in my hart. Help my om nie vasgevang te word in verkeerde dinge nie, maar die dinge te doen wat U wil hê ek moet doen. Vul my met U Gees sodat ek U kan ken, U kan dien en U my hele lewe lank kan volg. Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.