Was hande vir Jesus!

Lees:

Jesaja 41:10 – Moenie bang wees nie. Ek is by jou. Moenie bekommerd wees nie.Ek is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou. Ek hou jou vas. Met my hande red Ek jou.
Joshua 1:9 – Ek (Jesus het dit self gesê) self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God is by jou oral waar jy gaan.

Doen:

Is julle ook al moeg om heeltyd te hoor… Gaan was jou hande? Het jy jou hande gewas? Moenie aan jou gesig vat nie. Pasop vir die kieme… My twee seuntjies is al moeg vir hulle ma wat heeldag kerm. By elke deur is ‘n “sanitiser” en ek hou hulle soos ‘n valk dop as hulle van buite af kom, om eers hulle hande skoon te was.
Ek glo julle almal groot en klein het al verskeie video’s gesien van hoe kieme op ons hande bly as ons nie langer as 20 sekondes was nie. Nou die dag het ek gehoor hoe ‘n mamma en haar dogtertjies, “Vader Jakob” 2 keer sing, terwyl hulle hande was om sodoende die twintig sekondes om te kry. Dit het my laat dink…
As ons gedeeltes van versies sê, leer ons sommer ons Bybel en laat Jesus elke keer glimlag as ons, ons hande was.
WWees stil en weet ek is die Heer. (Psalm 46:11)
AAl gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie want U is by my. (Psalm 23:4)
SStaan vas in verdrukking en volhard in gebed. (Romeine 12:12)

HDie Here is my HERDERR, niks sal my ontbreek nie. (Psalm 23:1)
AAl oorval angs en benoudheid my, U sal by my wees. (Psalm 119: 143)
NGeen plaag sal NABY my tent [huis] kom nie. (Psalm 91:10)
DJesus sal jou DEK met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil. (Psalm 91:4)
EEer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde aan alle mense. (Lukus 2:14)

Leer elke dag ‘n versie en so sal jou hande kiemvry wees en jou hart vol van Jesus se liefde en genade!
Ek wil afsluit en vir julle ‘n stukkie lees uit ‘n boekie: “Engele van die Bybel” deur Wendy Maartens:

Saans as ek bed toe gaan (ek wil sommer my eie woorde insit en sê: ALTYD BY MY)
Kom 16 Engele staan:
2 aan my koppenent
2 aan my voetenent
2 aan my regtersy
2 aan my linkersy
2 wat my toevou
2 wat my opwek
2 wat my leer die weg van die Heer
en 2 wat my wys na die Hemelse paradys.

As jy dalk bekommerd word, as jy luister na al die virus stories en negatiewe dinge, onthou dat jy omring is met Engele. Gebruik die tyd wat ons Hemelse Pappa vir ons gegee het om net weer rustig te raak en ons gesinne raak te sien. Leer jou kinders ken. Maak tyd vir daardie ouerpligte waarvoor ons so min tyd het. Om ‘n bord-speletjie uit te haal en saam te lag en speel, en net weer mekaar te waardeer en lief te hê. Kinders floreer op aandag en liefde. Bou saam ‘n legkaart, maak ‘n hindernis-baan in die huis en wees weer kind saam met jou kinders. Jy gaan sien dat dit baie meer werd is as al die videospeletjies, selfone en tegnologiese toestelle wat jy vir jou kind gee.

Bid:

Bid saam, sing saam en wees veilig saam.

Ek seën elkeen vandag met Numeri 6:24: “Die Here sal julle seën en jou behoed ( ook teen die virus) die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede (en gemoedsrus) gee”.
Amen.

Verkry ‘n kopie van prentjies en aktiwiteite hier.

Subscribe to our Podcast Channel