Gehoorsaamheid en ‘n reënboog!
Lees:
Genesis 6:22: “En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen”.
Doen:
Geseënde Paasfees! Ek hoop elkeen van julle het ‘n wonderlike tyd saam geliefdes gehad.
Noag se ark… wat ‘n interessante en leersame gebeurtenis! Ons kan so baie leer uit Genesis 6-9. Gaan lees dit in jou Bybel of vra jou ouers om die storie van Noag vir jou te vertel.
Dit het my herinner om hierdie maand te onthou:
Om nie die boot te mis nie – ons lewens is so besig en word opgevang in dinge wat nie altyd ewigheid waarde dra nie. Kom ons wees op tyd en gehoorsaam om God se wil vir ons lewens uit te leef. Kan jy dink wat sou gebeur het as Noag nie na die Here geluister het om die ark te bou…
Onthou, ons almal is in dieselfde boot – so hou moed! Al lyk dinge vreemd of al is dit moeilik… Jesus is altyd daar om jou te help en te red.
Dit is goed om vooruit te beplan en vir die Heilige Gees te vra om vir jou wysheid, insig en krag te gee. Wees altyd gereed. Soos Noag – dink daaraan, teen die einde van die vloed was hy 600 jaar oud… Jesus kan jou roep om vir Hom te werk enige tyd, enige dag, enige ouderdom.
Moenie fokus op die kritiek van ander nie. As Jesus jou vra om iets vir Sy Koninkryk te doen, maak seker dat jy gehoorsaam is. Maak nie saak wat die wêreld daarvan dink nie, maak nie saak hoeveel stres en werk dit is nie, maak nie saak of jy dit kan doen of nie – ons doen dit nie in ons eie krag nie. Dit is als deur die krag en instruksies wat ons van ons Hemelse Vader kry. In Jesus, en deur Jesus is ons tot alles in staat. So raak rustig, gee jou bekommernis en probleme oor aan Jesus, en vra Hom om jou te lei en leer.
Die lewe is vol storms, net soos wat Noag en sy familie moes deurgaan… Dalk vandag, vir jou is dit die Covid-uitdagings, skool uitdagings, maatjies of familie… Maar wees versekerd – met Jesus aan jou kant, is daar ‘n kleurvolle, pragtige, reënboog (‘n verbond en belofte van ons Hemelse Vader) aan die anderkant.
Bid:
Liewe Jesus, dankie dat U ons lei en leer. Dankie dat ons so baie uit U Woord kan leer. Dankie dat U altyd by ons is. Dankie dat ons niks in ons eie krag hoef te doen nie, maar in en deur U, Heilige Gees is ons strek genoeg om deur enige storm te kom en die ongelooflike mooi reënboog te sien wat U vir ons as ‘n teken gegee het. Help ons om gehoorsaam te wees, as U vir ons ‘n taak gee. Ons het U baie lief. Amen.
Leave A Comment
You must be logged in to post a comment.